Hierdie is ’n verkorte en aangepaste weergawe van ’n artikel wat op MARKtoe! se webtuiste verskyn het.
Toe ek, as tuinier, nagedink het oor die onderwerp van waterwystuinmaak en probeer het om die aard en formaat van hierdie artikel te konseptualiseer, het ek nie geweet waar om te begin nie.

Die gedagte aan ’n paar droogtebestande plante is nou regtig nie opwindend vir enige tuinier nie. Terwyl ek probeer het om my gedagtes agtermekaar te kry en entoesiasme vir die onderwerp op te bou, het ek gedink:

Waterwys beteken nie noodwendig tuinmaak met baie min of geen water nie, maar eerder om uiters bewus te wees van die plante wat ons aanplant, asook wat die watervereistes vir daardie plante is. Kennis van die plante wat ons gaan gebruik en ook hoeveel water hulle benodig, help ons om watergebruik te optimaliseer. Sodoende glo ek kan ’n mens ’n gesonde en funksionele tuin skep waar die konsep en beginsels van waterwystuinmaak in aanmerking geneem word.

“Met al hierdie dinge in gedagte, hoef ’n mens nie ’n tuinier te wees nie…”

Suid-Afrika se reënvalpatrone

’n Integrale deel van ons tuinmaakkennis is dus kennis oor klimaatstreke en inligting oor die jaarlikse reënval en reënvalpatrone in die gebied waar ons woon.

Suid-Afrika het nie baie water nie en ons kry baie minder reën as die meeste ander wêrelddele – ons jaarlikse reënval is gemiddeld 450 mm, teenoor die wêreldgemiddeld van 860 mm per jaar. Die grootste deel van die land word as droog of halfdroog beskou, met 65% van die land wat minder as die aanvaarde minimum kry wat nodig is vir suksesvolle drooglandboerdery. Daarbenewens kry 21% van Suid-Afrika minder as 200 mm reënval per jaar – hoofsaaklik in die droë Noord-Weste. Vergeleke met die res van die wêreld, is ons waterbronne skaars en uiters beperk. En asof ons water-ellendes nie genoeg is nie, ervaar ons ook groot ruimtelike skommelings ten opsigte van jaarlikse reënval in die verskillende klimaatsones in Suid-Afrika asook dramatiese skommelings binne kleiner gebiede.

Die hoofreënvalstreke is die winterreënvalstreek van die Wes-Kaap, die heeljaarse reënvalstreek van die Oos-Kaap en die somerreënvalstreke in die res van die land. Twee taamlik interessante streke is die Groot-Karoo en die dorre Noord-Weste – hoewel hierdie gebiede die laagste jaarlikse reënval kry, huisves hulle ook van die mees biodiverse plantspesies ter wêreld.

Wat kan ons doen om watergebruik in ons tuine te verbeter?

Met al hierdie dinge in gedagte, hoef ’n mens nie ’n tuinier te wees om te besef dat ons bewus moet wees van hoe ons ons waardevolle waterbronne aanwend nie. Baie tyd en moeite word in die landbou daaraan bestee om water te maksimaliseer aangesien dit direkte ekonomiese implikasies inhou, maar wanneer dit by ons eie waterverbruik tuis en in die tuin kom, vergeet ons baie vinnig hoe kosbaar water nou eintlik is.
Hier is ’n paar wenke wat kan help:

  • Eerstens, ons kan die tekstuur van ons grond verbeter deur organiese materiaal of kompos by te voeg. Dit sal die grond se vermoë om water te behou, verbeter.
  • Ons moet probeer om die water direk by die wortelsone van die plant te kry, wat dus sal verseker dat die water toegedien word waar dit die nodigste is.
  • Dan moet ons ’n deklaag toedien om vog te behou – ’n deklaag of organiese materiaal op die oppervlak help om onkruidgroei te voorkom en verdamping te verminder. Organiese deklae is fyn of versnipperde blare, strooi, kompos, versnipperde koerant of selfs grassnippers.
  • Verkry inligting oor jou plaaslike klimaatstoestande en reënvalpatrone en gebruik plante wat geskik is – doen die meeste van jou aanplanting aan die begin van die reënseisoen sodat die plante tyd het om hulleself te vestig voor die droë seisoen aanbreek.
  • Gebruik gratis water! Versamel reënwater in dromme of tenks wat gekonnekteer is aan jou geute en waterpype. Gebruik jou gryswater in jou tuin, en om dit met welslae te doen, moet jy navorsing doen oor waterherwinning. (Elke Karookraal-huis het ’n watertenk waarin reënwater vanaf die dak opgevang word.)
  • Maak jou grasperk kleiner. Turfgras verg die meeste water en werk in jou tuin, en gebruik 15 tot 20 mm water per week. Vervang gedeeltes van jou grasperk met geharde grondbedekkers of plaveisel.

“Waterwys beteken nie noodwendig tuimaak met baie min of geen water nie.”

Beplan jou tuin en verminder jou watergebruik

Beplan jou tuin rondom die unieke kenmerke van jou tuin – ons tuine het hulle eie, unieke mikroklimate wat beïnvloed word deur permanente strukture, soos die huis of groot bome. Ons tuine het ook sonnige, winderige en skaduryke dele wat in gedagte gehou moet word wanneer jy jou tuin beplan. Die gradiënt of helling van die tuin speel ook ’n noodsaaklike rol in die keuse van wat en waar ons aanplant, aangesien afloop ’n probleem kan wees. Wanneer jy jou tuin beplan, moet jy dit in verskillende sones verdeel. So kan jy plante saamgroepeer wat soortgelyke watervereistes het. Wanneer ons ons tuin skep, sal dit verstandig wees om ’n kombinasie van sagte en harde landskapelemente te gebruik. Harde landskapelemente is dié wat gemaak word, soos paadjies, plaveisel, dammetjies en selfs beeldhoukuns. Anders as die sagte landskapelemente, oftewel plante, verg dit nie water nie.

Om jou watergebruik te maksimaliseer, moet jy jou plante in vier groepe of sones verdeel en dié met dieselfde watervereistes saam plant: Sone 1 vereis die minste water aangesien gevestigde bome die mees selfonderhoudende plante is, terwyl hulle ook beskutting en beskerming teen die wind bied. Om hierdie sone interessant te maak, kan jy sekere grondbedekkers aanplant. Sone 2 verg min tot ’n matige hoeveelheid water en bestaan uit struike en meerjarige plante. Sone 3 verg ’n matige tot groot hoeveelheid water, en dit bestaan uit jou eenjarige plante.

“Beplan jou tuin rondom die unieke kenmerke van jou tuin.”

Sone 4 vereis groot hoeveelhede water, en dit is dan jou turfgras. Wanneer jy plante kies, moet jy seker maak dat hulle funksioneel is en geskik is vir die area (of sone) waar jy dit wil plant. As jy ’n fokuspunt wil skep of ’n verandering in ’n sekere sone wil aanbring, kan jy plante in houers of potte gebruik en hulle individueel natlei. Hou jou plante gesond! Die gesondheid van jou plante is die belangrikste faktor wat bepaal hoeveel water hulle nodig sal hê – ’n gesonde plant het minder water nodig.

Plant inheems

Gebruik plante wat inheems is aan die gebied waar jy woon – hierdie plante het aangepas vir optimale groei in jou spesifieke klimaat, hidrologie en geografie. Sommige plante het spesiaal aangepas om te oorleef in ’n gebied met lae reënval deur sekere eienskappe te ontwikkel:

Haartjies op die stamme en blare voorsien ’n filter of beskermende laag wat evapotranspirasie vertraag. Ander voorbeelde hiervan is plante wat ’n kleiner blaaroppervlak ontwikkel het sodat ’n kleiner gedeelte aan die wind en son blootgestel word – soos klein, opgerolde of buisvormige en naaldagtige blare. Vlesige, vetplantagtige blare is byna soos ’n spons, wat ook die blare afkoel om evapotranspirasie te verlaag. Dikker bas beskerm plante teen die direkte elemente; terwyl bolle en knolle die vermoë het om ekstra water vir latere gebruik te berg. As plante dus aangepas het om water te bespaar, kan ons dit ook doen.

Die area waar Karookraal ontwikkel word se natuurlike habitat is rhenosterveld en alle plante wat tydens konstruksie in die pad is, sal na die kwekery op die terrein verskuif word.

Die plante word hiervandaan weer terug na die individuele of gemeenskaplike tuine geskuif wanneer hierdie tuine weer gevestig kan word.

Kontrole sal oor die vestiging van al die Karookraal-tuine uitgeoefen word en inwoners sal slegs plaaslike inheemse plantegroei kan aanplant.

Credit – Plaastoe.co.za